Met Embrace Jou Kaktus slaag Theo Marais skitterend daarin om die leser kort-kort te laat skater - en terselfdertyd diep te laat nadink. In Embrace Jou Kaktus dra dr Marais belangrike lewenslesse op sy humoristiese manier oor. Hy sal byvoorbeeld ’n vertelling begin met dié woorde: “Die stelling word baie dikwels gemaak dat prostitusie die oudste beroep in die wêreld is. Dit is nie. Beroepsliegbek is die oudste.” Dan sleur hy jou met sy uiteensetting mee tot aan die einde. En soms is dit die slotsom wat 'n mens soos 'n voorhamer tref, soos in ʼn ander vertelling: “Só leer jy jou vriende ken. Partykeer is vriende die grootste kaktusse in jou lewe.” 'n Mens wonder dan nie net oor jou eie vriende nie, maar ook oor wat se vriend jý self is...
Nadat jy Embrace Jou Kaktus gelees het, sal jy beslis anders begin dink oor vriendskappe, verhoudings en ander uitdagings, soos daardie “geld uit die buiteland” waarvoor jy dalk nou al so lank wag...
Op Reis met Jou Kaktus
“Ons hoor hom lank voordat ons hom sien. Hy is luid. Op Amerikaans. Hy het nie ʼn volumeknop nie. Net ‘Aan’ en ‘Af’. En ‘Af’ is stukkend.” Só beskryf Theo Marais een van die vele karakters wat jy ontmoet op reis saam met hom deur hierdie bundel uiters vermaaklike vertellinge op sy pittige, humoristiese manier. Hoe hanteer ʼn mens hierdie luidrugtige ou, hierdie spreekwoordelike kaktus, wat net eenvoudig niemand anders ʼn woord laat inkry nie?
En wat doen jy wanneer ʼn toergroep in ’n bus sonder ʼn toilet deur woestynwêreld reis en al wat vroulike passasier is, wil skielik gelyktydig ʼn draai loop?
Daar is inderdaad dae dat jy kaktusse nie embrace nie en so is daar ook sekere soorte kaktusse wat nie embrace moet word nie. Erger nog, in die skrywer se eie woorde: “Dis ʼn kaktus wat ek nie eens met die hand wil groet nie, allermins wil embrace.”
Net soos sy voorganger, Embrace Jou Kaktus!, is Op Reis met Jou Kaktus werklikwaar ook ʼn klein boekie propvol groot pret!
Dr Theo Marais: Besigheidsman, familiemens, vriend, spreker, reisiger, musikant en nou ook skrywer en dosent. Iemand wat, soos baie ander, die lewe se houe
ervaar het. Hy is lief vir sy skoonma (moet dit vir niemand sê nie), sy hond, sy vrou en sy kinders. Nie noodwendig in daardie volgorde nie. “Ons moet kan lag én leer uit ons ervaringe. Dis nie aldag maklik nie.”
Oor sy ervaringe met die mensdom sê hy, “Hoe meer ek met mense werk, hoe liewer word ek vir my honde!” Ook maar net mens.
Prys:
1 -
Embrace Jou Kaktus = R110 + posgeld
2 -
Op Reis Met Jou Kaktus = R125 + posgeld
3 -
Albei weergawes van Kaktus = 'n skrale R215 + posgeld
Om jou bestelling te plaas vir 'n kopie van "Embrace Jou Kaktus" of / en "Op Reis Met Jou Kaktus", vul asseblief die vorm hieronder in.
Vir enige probleme of navrae, kontak dr Marais op die volgende epos adres: theo@fireseed.co.za